Leesprogram

Leesvaardigheid is die grondslag van alle intellektuele onderrig.  Hierdie vaardigheid word al hoe meer `n uitdaging vir skole van vandag.  Vir die hedendaagse kinders is die lees van boeke, tydskrifte en koerante nie meer die hoofbron van inligting nie.  Sosiale en oudiovisuele media dra daartoe by dat kinders nie meer baie lees nie en goeie lees- en taalvaardighede gaan verlore.  Dit het `n negatiewe invloed op lees, leer en interpretasie van alle vakgebiede.   “CAMI Reader” is `n sisteem wat lees- en taal-vaardighede vir leerders van ouderdomme 5 tot 18 opbou.  By Privaatskool Moria fokus ons veral op grade 4 tot 8 om ten minste een periode per week aan hierdie vaardighede te bou.  Dit is rekenaar-programme in Engels en Afrikaans wat met goeie resultate tuis en in die klaskamer gebruik kan word.

Kenmerke van die program:

  • Fonetiese klankleer behels `n reeks uitgebreide klankoefeninge met gehoorinstruksies.
  • Lees en leesbegrip bevat materiaal wat graadgebonde is volgens woordgebruik, lengte van leesstukke en toepaslike begripsvrae.
  • Leerders het toegang tot leesstukke op `n persoonlike vaardigheidsvlak.
  • Alle areas van grammatika word gedek - woordeskat, woordsoorte, korrekte gebruik van woorde, spelling, sinonieme, antonieme, uitdagende woord-speletjies wat taalvaardigheid toets en nog vele meer.
  • Flitslesings toets leerders se vaardigheid om woorde van `n leesstuk af te spel.
  • Anagram is oefeninge van samevoeging en analisering van woorde in `n leesstuk.
  • Oogbewegingsoefeninge bestaan uit `n bestek van vier verskillende ruimtes met `n eie spoedstelling.
  • `n Ope teks-verwerker laat enige inligtingstuk toe om ingevoer te word as `n leesstuk.
  • Die stelsel pas aan by `n individuele leerder se persoonlike voorkeure soos kleure, leesspoed, prestasies, aantal spelwoorde, skrif-tipe, letter-tipe en letter-grootte.
  • Die klank wat met woorde geassosieer word, word bestudeer vir uitspraak en voordrag.   

Voordele van die program:

  • Dit fokus op die ontwikkeling van nuwe lees-tegnieke en die uitbreiding van taalgebruik.
  • Dit verbeter die leesspoed deur leerders te help om nie net een woord op `n slag te lees nie, maar groepe woorde.
  • Dit vergemaklik die integrasie van ander leer-areas.
  • Dit ondersteun leerders in die oorgang van “hardop lees” na “stil lees”.
  • Dit verbeter die leerder se konsentrasie en leesbegrip.